DIE GROOTHEID VAN FELIX TIMMERMANSxml:namespace prefix = o ns = "urn:schemas-microsoft-com:office:office" />
Christiaan Maurits van den Heever
(Uit Dietsche Warande en Belfort juni 1947 - tekst is zuid-Afrikaans)
As ons Timmermans se werk met die gewone kritiese maatstaf benader, dan val daar natuurlik heelwat op aan te merk. Met die begrip « gewone kritiese maatstaf » dui ek op 'n bepaalde lewenshouding van die Westerling en ek sluit die daaruit voortvloeiende neiging in om alles met die analitiese verstand te benader en tot in die fynste besonderhede te ontleed. Sedert die Renaissance het hierdie ontledingsdrang erg toegeneem totdat ons hele beskawing vandag 'n toonbeeld is van spesialisasie, met 'n ondermyning van alle eenheidsgevoel, wat ten slotte die basis van alle kuns is.
Ons wat ver van Wes-Europa verwyder is, maar nogtans onafskeidelik en onlosmaaklik 'n deel daarvan bly, kan miskien so uit die verte 'n enigsins objektiewe beeld vorm van die grootheid maar ook ernstige tekortkominge van die Westerse kultuur.
Die Afrikaner het nog nie veel op kunsgebied gelewer wat 'n vergelyking kan deurstaan met die beste wat deur die rype gees van Wes-Europese kunstenaars voortgebring is nie. En tog is dit my ernstige oortuiging dat die Afrikaner glad 'n ander weg moet inlaan as sy kunsbroer uit Wes-Europa indien hy iets wil voortbring wat oorspronklik en in die ware sin van die woord 'n bydrae tot die kultuur van die mensheid is. Die Afrikaner bewoon 'n groot en ruim land; hy het veral 'n egte liefde vir die verte en die ruimte. Dit is vir hom deur geskiedenis en bodem bepaal. Met hierdie werklikheid is hy daagliks in verbinding; dit het sy siel help vorm en aan hom 'n innerlike werklikheid gegee anders as die van die Vlaming en die Nederlander. Dit is ook die stof waaruit hy sy kuns moet opbou, want alleen diegene wat 'n waarlik nuwe kyk op die bekende kry, kan iets lewer wat meer as die bekende is. Deur vormbeheer word kuns altyd geadelde werklikheid.
Daarom is dit vir die Afrikaanse letterkunde inderdaad fataal om in 'n onvrugbare nabootsing van die Wes-Europese letterkunde en verskyningsvorme te verval. Sy eie lewe moet die karakter, wese en vorm van sy kuns bepaal. Dit is natuurlik waar dat die Afrikaner, wat nog in hoë mate deel van 'n groot beskawingsgedagte uitmaak, nog altyd onverwerkte aankleefsels daarvan sal vertoon. Hy moet juis sy oorspronklikheid toon deur die Afrikaanse lewe so te sien dat dit 'n toevoeging aan die oorgeërfde is en dat dit deur eie vormbelewing tot iets uitgroei wat vir die Nederlandse en Vlaamse leser verrassend nuut sal wees. Dit moet meer wees as stokou nuus net in nuwe taalvorm gegee.
Dit gebeur egter glad te selde, en die Afrikaanse verskuns veral het in die afgelope jare duidelik die spore van daardie onbewuste navolging en nadigting van Europese voorbeelde opgelewer. Die Afrikaanse gevoel verdwyn voor die beproefde Europese resep, wat in totaal ander omstandighede ontstaan het.
Wie die Europese maatskaplike lewe ken, weet dat dit radikaal van die Afrikaanse lewensvorm verskil. Hy weet ook dat dit nog jare sal duur voordat die Afrikaner by die borende intellektualiteit en psigologiese ontledingslus van daardie menstipe sal kom. Die pessimisme en groue verveling van soveel van daardie letterkunde is ook vreemd aan hom, en daarom moet hy dit nie navolg nie. Hy moet nie net op staatkundige gebied nie, maar ook in die letterkunde trou aan homself wees. Die siniese en godlose houding van baie gevierde Europese skrywers is vreemd aan sy lewensbeskouing en hy moet dus vry en los daarvan ontwikkel. Kuns moet 'n beeld, die vrug van die lewe wees.
Met hierdie opmerkings het ek in hooftrekke gekom by wat ek oor Felix Timmermans wil sê, want hy was vir ons sowel as vir Vlaandere, tot voorbeeld op menige gebied van kuns. Hy kon dit alleen doen deur getrou vanuit eie aard te ontwikkel. Timmermans was nog altijd 'n geliefde en geëerde skrywer in letterkundige kringe in Suid-Afrika. Hier kon sy werk in die oorspronklike geniet word, en het die sappigheid nie deur vertaling verlore gegaan nie. Waarom kan Timmermans vir ons as voorbeeld dien ? Waarom is hy 'n uitsonderingsfiguur in die letterkunde? Die antwoord hierop sal ons dadelik vind as ons, na al die swaar, psigologiese werk van menige gevierde Europese skrywer, die boeke van Timmermans lees. Onmiddellik word ons verbeelding ligter en blymoediger en leer ons weer om met die oë van 'n kind na die wondere van kleur, vorm en karakteristieke trekke om ons te kyk. Timmermans werk nie met 'n pen nie, maar met 'n penseel. Alles wat hy teken, kan ons dadelik sien.
Dit is dikwels betoog dat Vlaandere, enigsins afgesluit van die dawerende Wes-Europese masjiene-beskawing, nog veel van die eenvoudige, mistieke gees van die Middeleeue bewaar het. Dit is natuurlik in 'n beperkte sin waar, maar die moderne Vlaamse letterkunde gee aan die buitestaander tog ook wel 'n ander indruk. Dat die Vlaandere van Middeleeuse stilte en geloof invloed op Timmermans se werk gehad het, val natuurlik nie te betwyfel nie, net so min as die feit dat Lier, met sy atmosfeer van heengegane tye en van provinsiale afgeslotenheid, help vorm het. En tog was Timmermans deur sy eenvoudige. opregte aanleg, met sy hartelikheid wat ontplooi in 'n glimlag, geroepe om sy besonder soort kuns te lewer en het die omringende omstandighede net gehelp om dit te verskerp en te suiwer. Die intellek, die « gees » het by hom 'n ondergeskikte rol gespeel. Fantasie en gevoel het by hom oorheers. Met sy oorwinning, na sy siekte, oor SCHEMERINGEN VAN DE DOOD (1910) het dan ook 'n rigting in sy kuns begin wat hom, organies en natuurlik soos die groei van 'n boom, in die hele Wes-Europese letterkunde tot 'n merkwaardige verskyning laat voorkom het.
Timmermans was enig. Hy het geen voorgangers gehad en sal geen noemenswaardige navolgers hê nie. Ek het nog nooit by enige ander skrywer die eienaardige plastiese gawe en die kinderlike verrukking waarmee hy die dinge aanskou, teengekom nie. Sy beeldspraak is van n onoortroffe oorspronklikheid. Ruusbroec en Gezelle mag in hulle siening enigsins daaraan verwant wees, maar by elkeen van hulle is dit weer heeltemal iets anders. Vlaandere het in Timmermans 'n kunstenaar aan die wêreld geskenk wat, met al sy beperkings, sonder weerga is.
As Timmermans in IK ZAG CECILIA KOMEN skrywe : « In 't midden van het karspoor zit een haas in profiel. Ik zie zijn klaar oog. Met rustige schokjes verdwijnt hij in het bosch » - dan het ons 'n siening so oorspronklik, fris en waar dat dit meer verras as lang bladsye krampagtig geskrewe « woordkuns ». Gelukkig maar dat Timmermans nie onder invloed van die Tagtigers of ander «invloede » gekom het nie. Dit was sy redding as kunstenaar.
Wat ons aangehaal het, is nie maar 'n gelukkige keuse uit Timmermans se werke nie. Op elke bladsy wat hy geskrywe het, is sulke voorbeelde te vind. Paragraaf na paragraaf is 'n skilderytjie, helder en eenvoudig. Die komplekse emosies is daaruit. Al sy werke is monumente van hierdie verrassende bewuswording in die taal van die kenmerkende in lewe en gebaar rondom hom. Die natuur het maklik en moeiteloos in sy taal 'n herbloei belewe.
Ek het die besware gelees wat van tyd tot tyd teen Timmermans se kuns ingebring is, en ek moet eerlik sê dat dit weinig indruk op my gemaak het, juis omdat dit met dieselfde doodernstige, ploeterende « gees » geskrywe is wat my na 'n dwaalweg lyk waarin die worstelende gees van Europa beland het. Wie kan vlinders met so'n ruwe hand vang?
'n Kunstenaar wat geen fyn sintuie besit nie, mag nog soveel « gees » of « geleerdheid » besit, maar dit sal hom met die artistieke afronding van sy werk weinig help. Die ware kuns dein soos 'n waterring weg van die middelpunt, vry en los, en bereik steeds groter gebiede. Wetenskap en wysbegeerte het reeds te veel verdienstelike skrywers van die primêre van hulle taak at weggelei en hulle met inspanning van die wil knap, maar dooi, serebrale werk laat
skrywe.
By Timmermans is die sintuiglikheid die begin en end van sy kuns, staan die liefde vir warm kleure en koddige buitelyne voorop, en wie teleurgestel voel omdat daar so min « diepte » of « psigologiese motivering » is, het Timmermans nie begryp nie of 'n maatstaf op hom gaan toepas wat allermins by sy soort kunsuiting tuishoort. Timmermans se lewe het so oopgestaan na die natuur toe dat dit maklik en suiwer daarin gevloei het.
Ek het al dikwels die onsin gelees dat mense buite Vlaandere vir Pallieter gaan aansien het as die egte « goedronde », onverantwoordelike Vlaming en ek het my met verwondering afgevra wie so verspot. is om op grond van so n werk elke Vlaming in die hoofkarakter weerspieël te sien. Timmermans se skuld is dit seker nie. Wie is immers so kinderagtig om in elke Amerikaner n Babbitt te sien of in elke Afrikaner 'n Ampie?
Alleen mense wat in alles n « simbool » sien! Wie letterkunde so lees, sal natuurlik wil gaan kyk waar die pragtige rivier, die Nethe, lê en teleurgestel voel as hy dit nie vind nie. Hy kan dit alleen ontdek deur die oë van die kunstenaar, deur die oë van Timmermans. Hierdie kunstenaar se Vlaandere is nie die van Gezelle, van Streuvels of van Van de Woestijne nie. Dit is 'n ou waarheid in die kuns.
En so kan ons Timmermans alleen dan verstaan as ons al ons geleerdheid en kennis afstroop en weer met iets van daardie blydskap en verrassing na dinge kyk wat die eerste mens moes gehad het. 'n Digter is groter na mate hy nader daaraan is en terugkeer na die ongerepte bronne van die lewe. Dit is dan ook Timmermans se grootheid en ons is dankbaar dat hy nie « geleerder » was nie, dat hy al die opgegaarde rommel van ou beelde, van letterkundige grepe en beproefde resepte opsy geskuiwe het om daar agter weer die lewe, die volle werklikheid te aanskou as iets nuuts, as die wonderbare verskyning van God in aardse gedaante. Hy het die aarde liefgehad, omdat dit maar één openbaringsvorm van God is.
Daar kan natuurlik veel oor Timmermans se kuns geskrywe word, en dit is reeds deur kundiges gedaan. Ek wou alleen maar een belangrike aspek van sy kuns laat uitstraal en die wesenlike grootheid van sy kuns beklemtoon deur op die volkome nuwe en oorspronkelike daarin te wys. Tenslotte wil ek net sê hoe diep ek persoonlik die heengaan van Felix Timmermans betreur, want vir my was hy steeds 'n wonderkind onder die kunstenaars.
|