Emigrasie:
Huisrooftogte het die afgelope 5 jaar geweldig toegeneem, ten spyte van die polisie se versekering dat dit afneem. Van alle misdaad is dit waarskynlik die een wat die grootste paniek en vrees onder gewone landsburgers veroorsaak. Onskuldige kinders, bejaardes, gestremdes, en ander hulpelose mense, word die sagte teikens van gewetenlose rowers wat op inwoners se private eiendomme toeslaan. Dit is een van die hoof-oorsake dat die stroom van emigrante op lughawens elke maand groter word.
Sedert 1990, toe mnr F W de Klerk – Suid-Afrika se laaste blanke president – sy gewraakte toespraak van “Adapt or die” gelewer het, en wat daartoe gelei het dat die land in 1994 aan die Kommunistiese swart ANC op ‘n skinkbord oorhandig is, het sowat 1,5-miljoen Suid-Afrikaners die land verlaat. Daarvan is byna 1-miljoen Afrikaanssprekende blankes. Hierdie mense sluit hoofsaaklik jongmense in, aangesien slegs jongmense onder die ouderdom van 40 jaar werk in die buiteland kry. Maar, hulle is nie net jonk nie, hulle is die room van Suid-Afrika. Hulle is talentvolle mense met hoë kwalifikasies. Volgens ‘n professor in die ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch, is daar tans ‘n ernstige tekort van 25 000 rekenmeesters in Suid-Afrika. Daar is ook ‘n tekort van 100 000 ingenieurs, 10 000 vliegingenieurs en ander tegniese personeel op lughawens, duisense dokters, verpleegpersoneel, en ander gespesialiseerde gesondheidsorgpersoneel.
Vele emigrante vind dit moeilik om in die buiteland aan te pas, en sommiges keer uit desperaatheid terug na hul geboorteland, net om uit te vind dat hulle nou geen werk meer in Suid-Afrika kan vind nie. Daar was al gevalle van selfmoord, egskeidings en gesinsverbrokkeling. Die trauma wat vele Afrikaner-emigrante moet deurgaan, is onmeetbaar. Dit is asof die volk op alle terreine van die samelewing gestraf word.
Verarmde Blankes In Plakkerskampe:
Dit is moeilik om te glo dat Suid-Afrika, wat in die tyd van apartheid ‘n land van melk en heuning was, nou sowat 1-miljoen verarmde Afrikaners kan hê. Veel meer swartes is werkloos, en honderde sterf elke dag van honger.
Die kloof tussen ryk en arm het in die tyd van ANC-regering slegs verdiep, en die land het nou veel meer armes EN rykes as in die tyd van apartheid.
In 2006 het Suid-Afrika sowat 100 blanke plakkerskampe, met gemiddeld 1 000 inwoners, gehad. Tans is dit veel meer, want weens die ANC-regering se beleid van BEE (Black Economic Empowerment), en van AA (Afirmative Action), is daar geen werk en geen geld vir gewone Afrikaners nie.
Suid-Afrika en die voormalige Suid-Rhodesië was vir dekades lank die twee broodmandjies van Afrika, wat reuse surplusse koring, mielies en ander graansoorte geproduseer het, en oorvloede van vele voedselsoorte gehad het. Die land was ‘n uitvoerland van wêreldformaat, maar sedert 1994 het die land reeds miljarde Euro’s se voedsel ingevoer. In die apartheidsjare was daar geen werkloosheid, geen hongersnood en feitlik geen armoede nie. Gesondheidsorg was van die beste ter wêreld, en die gehalte van die opleiding van dokters en verpleegpersoneel was ook van die beste. Die wêreld se eerste hartoorplanting deur die Afrikaanse dokter, professor Christiaan Barnard, in die Grootte Schuur-hospitaal in Kaapstad, is bewys daarvan. Suid-Afrika was op talle terreine ‘n ryk land. Vandag is die agteruitgang (op alle terreine) enorm.
Peter