Suid-Afrika


Afrikaners is deesdae verward, want hulle weet nie waar hulle aan of af is nie.
Meer as ‘n miljoen Afrikaners het reeds uit hul geboorteland – Suid-Afrika – gevlug, en hulle woon meestal in Engelstalige lande oorsee, maar daar is ook duisende in Europa. Diegene wat in Suid-Afrika oorgebly het (hulle tel sowat 2,5 tot 3 miljoen), weet nie wat om te doen nie – moet hulle bly waar hulle is, moet hulle na ‘n ander deel van Afrika vlug, of moet hulle ook maar probeer om na ‘n oorsese land te vlug.
Indien die ANC oor sowat 18 maande die volgende algemene verkiesing wen, en as die meerderheid meer as 66% is, kan en sal die ANC die land se grondwet eensydig in hul guns verander. Hoe nader die tyd kom, hoe meer oortuigend raak die ANC, en hoe erger word misdaad in die land. Vele deskundiges, en vele blankes vrees vir ‘n burgeroorlog.
Aan die een kant is dit miskien ‘n goeie ding dat daar sulke dreigemente is, want hopeloos té veel blankes rus op hul louere, en doen niks om hul toekoms te beveilig nie. Aan die ander kant is daar darem nou die goeie nuus uit Europa dat die Afrikanervolk se hulpkrete uiteindelik gehoor word. Dat 48 lede van die Europese Parlement die petisie teen “Plaasmoorde” onderteken het, is voorwaar goeie nuus!
Die nuus is so goed in sekere oorde ontvang, dat sommige Afrikaners dink die gevaar het reeds verdwyn. Vreugdesvure brand orals en Afrikaners wil nou net trek. Trek na hul volkstaat. Niemand weet egter waar daardie “volkstaat” sal wees nie, en of die ANC so-iets sal toelaat nie. Feit is, die volk wil nou trek!
‘n Rubriekskrywer, Louis Marais, skryf onlangs op die Praag-webwerf (Praag = Pro-Afrikaanse Aksiegroep): “Volkstaat, Volkstaat hier kom ons!”
Die swartes beweer dat die blankes almal “setlaars” is, dat die blankes alles wat hy besit van die swartes gesteel het, en dat die hele land (Kaapland ingesluit) “nog altyd aan die swartes behoort het.”
Louis skryf dat ‘n volkstaat nou die Afrikanervolk se enigste keuse op oorlewing is, aangesien Europa nie 3-miljoen Afrikaners met ope arms gaan ontvang nie. Dan vra hy die vraag: “Waar gaan ons toekomstige volkstaat, of Afrikanerrepubliek, wees?”
In 1948, toe die Afrikanervolk vir die eerste keer beheer oor die hele Suid-Afrika geneem het (nadat die Engelse apartheid ingestel het en die land met ‘n ystervuis regeer het), kon die destydse Eerste Minister, dr D F Malan, net gesê het:”Ons verdeel nou hierdie land in twee gelyke dele – een vir die swartes, en een vir die wittes,” maar ongelukkigb het hy dit nie gedoen nie.
Die Afrikanervolk (of dan die totale blanke gemeenskap) sou dan 600 000 vk km van Suid-Afrika kon kry, maar nou sal ons slegs op sowat 60 000 vk km kan staat maak. Die beste besluit wat dr Malan sou kon geneem het, sou wees om die noordelike, of oostelike helfte van die land aan die swartes gegee het, en die res van die land tot ‘n konfederasie te verklaar het. Die Afrikaners, die Engelssprekendes, die Asiërs, en die bruinmense (of Xhoi-Xhoi en Xhoi-San) kon dan elkeen sy eie kanton (soos in Switserland) gekry het. Kaapstad en Port Elizabeth kon dan as Federale hoofstede gedien het, en elke etniese groep kon sy eie kanton-hoofstad gestig het. Die oostelike deel – met Port Elizabeth as hoofstad – kon die Engelstalige deel van “Westerland” (of “Suiderland”) gevorm het, terwyl Kaapstad die federale hoofstad van die Afrikaanstalige deel gevorm het.
As mens die Afrikanervolk se geskiedenis bestudeer, asook dié van ander volke in Suider Afrika, dan kom ‘n mens tot die slotsom dat die Wes-Kaap en die Noord-Kaap die beste deel vir ‘n volkstaat is.
Die grootste konsentrasie van Afrikaners (sowat 1-miljoen) woon in die Gauteng Provinsie, en veral in die Pretoria-omgewing, maar terselfdertyd woon daar omtrent 10-miljoen swartes wat ook hoop ons dié provinsie hul eie te maak. Dit is ook die provinsie waar die meeste misdaad gepleeg word.
Sommige Afrikaners wil dat die volkstaat die land se rykste gedeelte insluit. Daardie gedeelte strek van Witbank en Middelburg in Mpumalanga, tot by Welkom in die Noord-Vrystaat, en loop met ‘n wye draai om Johannesburg. Dit sluit Ermelo en Standerton in.
Dan is daar ander Afrikaners wat ‘n bietjie meer realisties is, en wat redeneer dat ‘n gunstige demografie en historiese regte meer werd is.
Die Karoo is Suid-Afrika se ylste bevolkte streek, en die swartes het geen historiese regte daar nie. Die Xhoi (bruin mense) woon al 20 000 jaar daar, en die Afrikaners sowat 300 jaar. Die paar honderd swartes wat tans daar woon, het maar eers die afgelope 50 jaar daarheen verhuis.
Orania, wat aan die wesoewer van die Oranjerivier (deesdae GARIEPRIVIER genoem) lê, sal die hoofstad van die beoogde volkstaat wees, en sal die oostelike grensdorp wees. Die taal Afrikaans, word deur sowat 90% van alle bewoners in die Karoo gepraat, en Afrikaners se agterstand in elke distrik wissel van 2 500 tot 50 000.
Lambertsbaai, wat aan die Atlantiese kus lê, kan die volkstaat se alternatiewe hoofstad wees. In tye van nood, wanneer die res van Suider Afrika se lughawens moontlik gesluit sal wees, sal Lambertsbaai vir die Afrikanervolk van onskatbare strategiese belang wees, want dit sal die enigste verbinding met Europa wees.
Die Clanwilliamdam in die Olifantsrivier, wat maar net 70km van Lambertsbaai is, bied genoeg water om aan die behoeftes van honderde duisend inwoners aan die Weskusgebied te voorsien.
Peter Murray














