Die karate-brak
Misdaad vier hoogty in n sekere woonbuurt in die buitewyk van die stad. n Egpaar wat n huis daar laat bou het, is doodbenoud nadat by drie van hul bure se huise ingebreek is. Hulle besluit om n waghond te kry.
Die vrou gaan toe na die naaste troeteldierwinkel en sê: ''Kan julle my help, asseblief? Ek het n goeie waghond nodig.''
''Dit spyt my, mevrou,'' sê die klerk wat haar bedien, ''maar al ons waghonde is uitverkoop. Al wat ons het, is hierdie steekhaarbrakkie. Maar hy ken darem karate.''
Die vrou glo dit natuurlik glad nie, maar die winkelklerk sê: ''Karate daardie stoel!'' En die steekhaartjie storm op die stoel af en kap dit net daar in duisend stukkies.
Vervolgens sê hy vir hond: ''Karate daardie tafel.'' Waarop die hond n stewige houttafel bespring en dit summier in twee stukke breek.
Tevrede dat die klerk nie vir haar jok nie, koop die vrou die hond en neem dit huis toe na waar haar man wag op die groot waghond wat hy gereken het sy sou koop. Hy is skoon uit die veld geslaan en baie kwaad toe hy die steekhaarbrakkie sien.
''Maar, liefling, hy ken karate,'' probeer die vrou haar optrede regverdig.
Dog haar man wil niks verder hoor nie. ''Karate?!'' skreeu hy. ''Karate, my agterent!''
Hy lê nou al geruime tyd in die hospitaal.
|