VISHOEK. n Jong lewensredder het gister bo-op die rug van n witdoodshaai te lande gekom toe die haai eers sy geleende kajak in die lug gestoot en daarna gehap het.
Foto Leanne Stander
Mnr. Lyle Maasdorp (19) van Glencairn het gisteraand opgewonde vertel dié haai van byna 3,5 m was baie glibberig. Maasdorp en vier ander lewensredders het omstreeks 16:30 by Sunny Cove geoefen.
Mnr. Henri Murray (22), n Matie-student, is in Junie verlede jaar deur n witdoodshaai by Millers Point daar naby verskeur. In November 2004 is mev. Tyna Webb (78) ook in n aanval deur n witdoodshaai dood. Gister se aanval was sowat 300 m van waar Webb verskeur is.
Volgens Maasdorp was hulle na Simonstad onderweg, toe ek skielilk gevoel het hoe my kajak van agter uit die water opgelig word.
Eers het ek gedink my vriende probeer met my gekskeer, maar kort daarna het ek n kraakgeluid gehoor en die kajak is in die lug opgestoot.
Met die water wat dié tyd al om my gespoel het, het ek uit die kajak gegly en in die water geval.
My arm het op die haai se rug beland amper asof ek hom vashou. Die haai se snoet was voor besig om aan die kajak te kou en die stert hier om, het hy beduie.
Toe byt hy die kajak. Ek wou daardie tyd net wegkom, het hy gesê.
Mnr. Anthony Pierce (37), een van die ander lewensredders, het nader geroei.
Hy het op die agterkant van my kajak geklim en ons het vinnig weggeroei, het Pierce beskeie gesê.
Die twee het na die rotse geroei, waarna hulle veilig tot by die kus gebring is.
Ek dink hy het gedink ek is n rob of iets wat hy kon eet. Ek moet bieg, toe ek op Anthony se kajak geklim het, het ek gewag vir die oomblik dat iets my van agter sal byt. Jy weet, daardie byt-gevoel. Al wat ek vir myself gesê het, was kom hier weg, het hy gesê.
Die hap van sowat n halwe meter uit die kajak sal minder as R1 000 kos om te herstel.
Ek wil dit nie as n aandenking hou nie. Dit is nie eens myne nie, ek het dit by n vriend geleen!
Volgens hom is dit sy kalmte wat hom uit die situasie gered het.
As lewensredders word ons opgelei hoe om situasies soos dié te hanteer.
Maasdorp het gesê hy sal nie lank uit die water bly nie.
Hy het reeds met vriende planne gemaak om môre die koue water aan te durf.
Verlede Vrydagaand het n suidelike noorkapperwalvis van 15 m in die Kommetjie-omgewing uitgespoel. Mense het toe gevrees dat van die olie van die ontbindende walvis, moontlik haaie na die gebied kan lok.
Volgens mnr. Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het ontken dat daar n verband tussen die haai-aanval en die walvisolie is.
Daar is sowat 20 seemyl tussen die twee punte, het hy gesê.